Reports

Index

Subject: 8 munisipale hoës aangekla oor waterwet


Marisa Phillips
Bloemfontein. – Agt voormalige munisipale bestuurders en waarnemende munisipale bestuurders van die Matjhabeng-munisipaliteit het gister in die hof op Welkom verskyn op aanklagte van die oortreding van die Waterwet.
Dit is die eerste saak in sy soort wat in Suid-Afrika in die hof draai. Adv. Antoinette Ferreira van die Groen Skerpioene kla aan. Dit volg nadat twee klagte by die polisie ingedien is oor die besoedeling van water omdat die rioolaanlegte van dié munisipaliteit feitlik heeltemal buite werking is.
Die DA het in April ook ’n klag daaroor by die polisie ingedien.
Me. Maria Tshabangu van Nelspruit, mnre. Selle Nanisa van Thabong, Johannes Motseki van Pretoria, dr. Benjamin Malakoane van Kroonstad, mnre. Vusi Adonis van Welkom, Nkrumah Pitso van Roodepoort, die Matjhabeng-munisipaliteit wat deur mnr. Thabo Pietersen, huidige munisipale bestuurder, verteenwoordig word en dr. Dimakatso Moorosi van Bloemfontein is gewaarsku om op 29 September weer in die hof te verskyn. Tshabangu en Moorosi was nie gister by die hof nie en het doktersbriewe ingedien.
Malakoane en Moorosi is raadslede van Bloemwater.
Me. Mathabo Leeto, uitvoerende burgemeester van Matjhabeng, en amptenare en raadslede van die munisipaliteit het gister ook die hofverrigtinge bygewoon. Leeto het ná die tyd op ’n mediakonferensie gesê die munisipaliteit kon weens ’n gebrek aan geld nie die rioolsuiweringsaanleg in en om Welkom in stand hou nie.
“ ’n Aksieplan is in Maart opgestel waarvolgens ons dié probleem nou gaan aanpak. ’n Totaal van R65 miljoen, waarvan R26 miljoen deur die departement van waterwese en omgewingsake beskikbaar gestel is, gaan nou gebruik word om Witpan, Odendaalsrus, Theronia en Hani-park se rioolaanleg op te knap. Dit behoort teen Mei volgende jaar voltooi te wees.”
Leeto het gesê as inwoners hul dienstegeld betaal, kan dinge soos rioolsuiweringsaanlegte in stand gehou word. Op ’n vraag waarom raadslede wat etlike duisende rande aan dienstegeld skuld, nie vasgevat word nie, het sy gesê almal word oor dieselfde kam geskeer.
Mnr. Peter Frewen, DA-woordvoerder oor plaaslike regering en behuising, het vroeër gesê die rioolaanleg by Odendaalsrus werk al bykans twee jaar glad nie, Witpan in Welkom staan al ’n jaar lank stil en riool loop al langer as ’n jaar by Virginia in die Sandrivier in.
Beeld
 
Morné Viljoen
Environmental Law Department
CLS Consulting Services (Pty) Ltd
Tel     + 27 12 307 3022
Fax    + 27 12 307 5857
Cell    + 27 73 229 2455
E-mail mailto:morne.viljoen@consult-cls.com
Back    
"Fishing Owl supporting WC reporting"