Turds

20th September 2006 DIE BEELD
KOMMER OOR DERDUISENDE VIS IN VAAL VREK
Elise Tempelhoff
“Derduisende inheemse vis”, waaronder babers, het die afgelope twee weke in die Vaalrivier by Standerton in Mpumalanga gevrek.
Die vis lê nou in die stadig vloeiende water in die munisipale gebied op die oewer van die rivier en vrot.
Mnr. André du Plessis, ‘n inwoner van die dorp, sê die mense van Standerton dring aan op antwoorde. “Al wat ons hoor, is dat die vis gevrek het weens ‘n tekort aan suurstof in die water.”
Intussen het die omgewingsorganisasie EcoCare die voorval bestempel as ‘n derde ekologiese ramp die afgelope nege maande in die Vaalrivier.
Dr. Ernst Swart, wetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Akwatiese Biodiversiteit, het gister gesê as ‘n barber vrek, is daar groot fout met die water.
“Dis die mees geharde vis in Suid-Afrika se riviere en as hulle begin vrek, is die suurstofvlakke in die water besonder laag.”
Hy meen die babers kon gevrek het weens “ernstige rioolafvalbesoedeling” of dalk swaar metale wat in die water voorgekom het.
Volgens mnr. Trevor Babich, wat onlangs met ‘n webwerf, www.fishingowl.co.za, begin het om bewyse van rivierbesoedeling bymekaar te maak, word onverwerkte rioolafval al langer as ‘n jaar naby Rooikoppen, ‘n woonbuurt van Standerton, in die rivier gepomp word.
Mr. Marius Keet, adjunkdirekteur van watergehaltebestuur by die departement van waterwese en bosbou, het gister gesê hy was nie daarvan bewus dat die visvrektes sulke afmetings aangeneem het nie. ‘n Kollega sou gister daar watermonsters neem.
Volgens mnr. Calvin Ngobeni, munisipale bestuurder van die Lekwa- plaaslike owerheid (Standerton), was hy twee weke gelede by die rivier en het hy reeds amptenare opdrag gegee om die dooie vis uit die rivier te haal.
Hy het ontken dat enige onverwerkte of halfverwerkte rioolafval in die rivier gepomp word.