Pasta Arrabbiata
(6 porsies)
Noem die naam Marcello Fiasconaro en atletiekentoesiaste
onthou hom dadelik as die Suid-Afrikaner wat in 1973, tydens die isolasiejare,
ons naam hoog gehou het en in Rome 'n nuwe wêreldrekord van 1
min. 43,7 sek, in die 800 m opgestel het. Ek het 'n tyd gelede by hom
in Johannesburg gaan kuier, kopstukke gesels en hierdie koslas daar
gemaak. Die woord arrabiata dui aan dat dit brand. Hierdie is dus 'n
pastagereg met 'n byt.
60 ml (4 e) olyfolie
15 ml (1 e) gekapte knoffel
4 bird eye- gedroogde brandrissies, fyn gekap
of
2 vars rooi brandrissies, gekap
2 x 410 g gekapte tamaties met origanum en
basielkruid (2 blikke)
125 ml (1/2 k) vars, gekapte pietersielle
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
500 g penne-pasta of spaghetti
Metode
Verhit die olyfolie in 'n pan oor matige hitte. Voeg
die knoffel in fyngekapte brandrissies by en roerbraai dit totdat die
knoffel begin verkleur. Voeg die tamaties en pietersielle by. Druk die
tamaties fyn en geur dit met sout en peper na smaak. Laat prut dit oor
lae hitte - 1 uur lank of totdat die sous verdik. Roer dit gereeld.
Verhit 2 liter water, waarby 5 ml (1 t) sout gevoeg is, tot kookpunt
in 'n kastrol. Voeg die penne of spaghetti by en laat kook dit 10 minute
lank. Roer dit gereeld. Dreineer die pasta en skep dit terug in die
kastrol. Skep die tamatiemengsel oor en meng dit deeglik. Skep dit in
'n opdienbak en geniet.
Wenk
Gedroogde brandrissies is sterk, Indien die kinders
saameet, kan die monde brand. Ek waarsku net.!